OKAVANGO DELTA EN CHOBE SAFARI

Om die Okavango Delta, die wêreld se grootste vleiland te noem, klink soos ‘n cliché, maar watter ander vleiland kan vanaf die ruimte gesien word, en watter ander een laat jou ‘n absolute gevoel van ware wildernis ervaar? ‘n Okavango Delta Safari is nie goedkoop nie, maar waar anders kry jy ‘n plek van dié grootte, wat wemel van krokodille, olifante of leeus wat deur water beweeg om ‘n buffel te jag? As jy van so ‘n plek weet sal ek saamstem dat jy hierdie geleentheid kan mis.

Die Khwai konsessie gebied is nie in die middel van die delta nie, maar dit is sekerlik ‘n area met buitengewone voël en dierelewe. Voeg daarby Savuti wat een van die wêreld se interessantste plekke is wat bekend is vir sy buitengewone diere lewe en jy sal begin verstaan dat die safari beloof om ‘n ervaring van ‘n leeftyd te word.

Sluit hierby Chobe Rivier, Chobe Safari Lodge en Victoria Falls en jy sal verstaan dat hierdie safari ‘n ware wêreld gehalte ervaring sal wees.

‘n Okavango Savuti safari kan nooit goedkoop wees nie. Dit is wilde wêreld en alles van brandstof tot kos moet oor baie swak paaie vervoer word. ‘n Onlangse besoek aan die area het my juis R25 000 aan skade aan my voertuig gekos! Hierdie safari sal in oop voertuie gedoen word en die beste moontlike veldgidse sal gebruik word, terwyl Andries Erwee wat ook ‘n bekende safari gids is jou toerleier sal wees.

Of hierdie ‘n luukse toer genoem kan word hang sekerlik van jou persepsie van luuks af. Indien dit lugversorging en vier stel hotelle behels dan sal net Chobe Safari Lodge en miskien ook Island Safari Lodge kwalifiseer. As luuks vir jou ervarings insluit soos om deur die brul van ‘n leeu wakker gemaak te word dan gaan hierdie beslis ‘n luukse ervaring wees.

Daar is baie menings oor wanneer dit die beste seisoen is om die Okavango Delta te besoek. Jou toerleier verkies die somer. Die mooiheid van die plante, die min mense en die baie voëls maak dit ‘n somers paradys. Mei is my tweede keuse. Die reën het dan gestop, maar die bos is steeds relatief groen. Dit is makliker om die groot katte and ander wild te sien. Mei is dus ‘n goeie kompromis tussen die winter en somer. Die feit dat daar relatief min besoekers tydens Mei is, maak Mei verder aantreklik.

Ons wil nie die gevoel van rustige isolasie te veel skend nie en daarom word ons groep tot ‘n maksimum van 16 gaste beperk. As jy een van hulle wil wees sal jy dus moet gou speel.

DAG 1 Johannesburg na Maun Island Safari Lodge. Ons vertrek van Johannesburg met vliegtuig tot in Maun. ‘n Kort rit sal ons tot by Island Safari Lodge neem waar ons sal oornag. Vanaf Island Safari Lodge sal ons ‘n sonsondergang vaart in die Delta doen. Ons sal net na sononder terug keer na ‘n paar ingeslote drankies en verversings. As ‘n opsionele ekstra kan jy gedurende die middag, ‘n uur lange vlug oor die Okavango Delta onderneem. Dit sal jou ‘n geleentheid bied om die natuurlike wonder en sy besondere wilde diere uit die lug te bewonder. (Ingesluit: Akkommodasie in lug versorgde chalets met aandete en ontbyt. ‘n boot vaart met beperkte drankies en verversings)

DAG 2- 5: Island Safari Lodge tot Khwai wildernis gebied van die Okavango Delta. Hierdie is ‘n privaat konsessie en ‘n werklike wildernis gebied. Wild besigtiging langs die Khwai Rivier is uitstekend en die voël lewe selfs nog beter. Ons sal in ‘n privaat kamp bly wat spesiaal vir ons opgeslaan sal word. Die tente is ruim en die storte sal warm wees, As jy in ag neem dat die kamp spesiaal vir ons opgeslaan sal word, kan jy dit selfs as luuks beskou. Die kos sal goed wees en twee wildritte per dag sal gedoen word. Wildritte sal op ‘n oop safari voertuig met nie meer as 8 gaste per voertuig wees nie. (Drie etes per dag wat ‘n ligte middagete insluit asook akkommodasie in tente en alle kamp fooie sal ingesluit wees.

DAG 6: Khwai tot Savuti area van die Chobe Nasionale Park. Chobe Nasionale Park is een van Afrika se bekendste parke. Die olifant bevolking is die park is regtig verstommend. Die Savuti area is egter meer bekend vir vlakte diere soos Sebras en blouwildebeeste die groot katte wat jag maak op hierdie diere.

Die Savuti kanaal was droog vir 28 jaar, maar het in 2008 skielik weer vol water geraak. Dit is nou weer ‘n groot rivier wat uitmond in die Savuti vleiland of vlaktes. Die Savuti vlakte is deel van een van Suider Afrika se bekendste Sebra migrasie roetes. Die groot getalle sebras verskaf ‘n fees vir leeus terwyl die kleiner katte en wildehonde jagmaak op die kleiner bok soorte. Hier sal ons laat middag en die oggend voor ons vertrek ‘n wildrit onderneem. Ons hele rit vanaf Khwai tot by Savuti sal egter een lang wildrit wees.

Ons totale kamp sal vir een nag se verblyf na Savuti verskuif word. (Alle etes en aktiwiteite is ingesluit)

DAG 7: Savuti tot Kasane en Chobe Safari Lodge: Dit sal die laaste keer op hierdie safari wees, wat ons in ‘n tent wakker word. Voor ontbyt sal ons egter op ‘n wildrit gaan en die Savuti vlaktes vir die laaste keer besoek op soek na die groot katte en hul prooi. Vanaf Savuti sal ons noord reis tot in Kasane en Chobe Safari Lodge op die oewer van die Chobe Rivier. Chobe Safari Lodge is een van Botswana se luukste lodges en ons verblyf hier beloof om ‘n baie besondere ervaring te wees. (Ingesluit: Oggend wildrit by Savuti en aandete en verblyf by Chobe Safari Lodge. Middagete nie ingesluit).

DAG 8: Chobe Safari Lodge – Victoria Falls – Chobe Safari Lodge. Vandag sal ons die Victoria waterval in Zimbabwe besoek. ‘n besoek en toegang tot die valle en reënwoud is ingesluit en daar sal genoeg tyd wees om die dorpie te verken voordat ons terugkeer na Botswana en ons luukse lodge. Vanaand sal ons ‘n sonsondergang vaart op die Chobe Rivier onderneem (Ingesluit: Akkommodasie in Chobe Safari Lodge, buffet ontbyt en aandete, Retoer vervoer na Victoria Falls en wild vaart op Chobe Rivier (Middagete uitgesluit).

DAG 9: Kasane tot Johannesburg. Ongelukkig moet ons safari ook eindig. Vanoggend sal ons ‘n wildrit met goed opgeleide safari gidse in oop voertuie in die Chobe Nasionale Park doen. Na ontbyt sal jy vry wees om te ontspan in die lodge. (Ingesluit: Buffet ontbyt, lughawe vervoer, Park fooie en wild rit)